Carl Sagan

Carl Edward Sagan (9 November 1934 – 20 Desember 1996) was ’n Amerikaanse sterrekundige, astrofisikus, kosmoloog en skrywer in sterrekunde en ander natuurwetenskappe. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die ontdekking van die planeet Venus se hoë oppervlaktemperature. Hy is egter die bekendste vir sy bydraes tot die wetenskaplike navorsing van buiteaardse lewe, insluitende die eksperimentele demonstrasie van die vervaardiging van aminosure van basiese chemikalieë deur bestraling. Sagan het die eerste fisieke boodskappe saamgestel wat die ruimte ingestuur is: die Pioneer-plaat en die Voyager Goue Skyf – universele boodskappe wat moontlik deur buiteaardse intelligente wesens verstaan kan word as hulle dit sou vind. Hy het meer as 60 wetenskapgeskrifte en artikels gepubliseer en was die skrywer, medeskrywer of redakteur van meer as 20 boeke. Sagan is ook bekend vir baie van sy populêrewetenskapboeke soos The Dragons of Eden, Broca's Brain en Pale Blue Dot, en vir die bekroonde 1980-TV-reeks Cosmos: A Personal Voyage waarvan hy die verteller en medeskrywer was. Cosmos was die reeks met die meeste kykers in die geskiedenis van Amerikaanse openbare TV; minstens 500 miljoen mense in 60 lande het daarna gekyk. Sagan was vir die grootste deel van sy loopbaan ’n professor in sterrekunde aan die Cornell-universiteit. Hy het verskeie pryse en medaljes ontvang. Hy is op 20 Desember 1996 op 62 jaar oorlede aan longontsteking.


Developed by StudentB